Wednesday, 1 October 2008

5 Maart 2008 - 5 dae...

Dis nou al woensdag…

En toe sneeu dit!!! OK, nou nie genoeg om te lê nie maar darem genoeg dat die groenstrook teen die berg vanmore spierwit was en dat die dakke vol wit gelê het! Di vlokkies val so saggies en dwalend, asof hulle nie weet waar hulle moet lêplek kry nie. Dis anders as reen, stil en amper sonder emosie…

Ek is Dinsdag saam met Renè, my niggie wat al 25 jaar hier bly, na ‘n amerikaanse bybelstudiegroep vir vroue in Basel. Ek en Hann-Roux moet 8 uur op Frick stasie vir haar wag, dan ry ons verder in haar Mini. Toe ons net voor 7 by die huis uitstap het ons elkeen ‘n hemp en ‘n baadjie aan – dis regtig nie koud nie – maar toe ons twee op Brugg stasie aankom voel dit soos Siberië – en ek voel soos Racheltjie de Beer – ek het nie ‘n foon om Rene te laat weet dat ek dit eerder gaan mis om vir HR meer klere te gaan haal nie – ek het hom toe maar in my baadjie toegevou tot die trein kom. Toe ons deur die tonnel is van Brugg na Frick begin dit sneeu – en ek praat nou nie van ligte kapok nie, daar lyk die wêreld soos die spreekwoordelike ‘krismis in switserland’! ons klim toe af en wag 15min lank vir Rene in die sneeu – dat ons nie longontsteking het nie kan jy net toeskryf aan gedeelde liggaamshitte! Sy’t toe huistoe gery sodat ons vir HR van Emile (haar seun op laerskool) se klere kan aantrek. Is toe daar weg met ‘n groot gedruis – ek voel soos ‘n totale idioot – my kind en ek kon vreeslik siek geword het, net omdat ek nie weer gekyk het nie (sorrie ma!!!). so nou lees ek amper uurliks weer op teletext. Maar in my verweer kan ek darem se dat dit die vorige dag 10° was...

Die bybelstudie is ‘n ander storie, soos ons almal al beleef het met amerikaanse konferensies is hulle vreesaanjaend effektiewe burokrate – hierdie is geen uitsondering nie! Ek’s deel van ‘n groep van 8 en ons lees Mattheus – doen hierdie week hfst 17. hulle deel elke week vir jou nuwe vrae uit wat jy dan moet deurwerk en 1 uur kry om te bespreek, daarna is daar ‘n preek. Dis vreeslik vreemd om die bybel in engels te lees – ek verstaan net elke 3e woord, maar ek dink dis goed vir ons om dit by te woon. Hulle het ‘n kinderklas vir 2 ure, dan kan HR sommer leer engels praat ook – nie dat hy vreeslik geneë was in die begin nie, maar hy’t darem gebly.

Ons woonstel moet nogal verduidelik word sodat julle my gebabbel kan verstaan. By die voordeur regs is 2 slaapkamers (met los kaste, bid jou aan!?!?!?!?) en die hoofslaapkamer is verseker amper so groot soos Sibelius. Die gangkas voor die voordeur het ons jasse en die stofsuiergery daarin (later meer daaroor…). Die siteetkamer is so groot soos ons tv kamer en die kombuis is letterlik vir 1 persoon, sonder mikrogolf of broodrooster maar met ‘n glasplaatstoof en ‘n diepwasbak! Die krane is nogal iets om oor gaande te raak alhoewel dit hier redelik standard is, niks draai nie, dit skuif van links (warm) na regs (koud) en die kombuiskraan het ‘n nek, so jy kan sy gorrel uittrek as jy water op ‘n ander plek wil hê. Al die vensters het sulke mislike wit (grys van vuil...ek dink) moeselin gordyne maar buite het hulle digte staalblinders, so jy kan in die middel van die dag ‘n pikdonker kamer maak. (daar kom die son nou deur en skyn op my hande – daar’s darem niks soos sonlig om jou vitamiene D vervaardiging op te stoot nie – my hart bokspring sommer...). ek maak in die aande al die blinders toe. die badkamer het ‘n bad met ‘n stortkop en so ‘n irreterende wit stortgordyntjie – maar dis beter as om te bad – met ‘n kragpunt en ons haardroeer – dis nou werklik handig. Die enigste werklike ‘outer space’ meublement is die ligte – oor die algemeen is hulle ook maar flou en ek sal nog die fotos neem om te wys hoe dit lyk – DIS ON-GE-LOOF-LIK LELIK! Al die verhitting is nou al afgeskakel en ons stroop nog steeds al ons klere af sodra ons by die huis kom. Rene het my gistermiddag verduidelik dat mens elke dag al jou vensters 2 keer vir 3 minute oopmaak om varslug te kry – nou voel ek nie meer so skuldig dat ek die kombuisvenster permanent oophou nie – mens sal versmoor van al die gebruikte suurstof! Die blok is teen ‘n koppie met ‘n kasteel bo en ‘n reuse rooi hyskraan aan die anderkant (HR is in vervoering!), in die vallei is die dorp (net 1 straat met ‘n petrolstasie en ‘n winkel!) en die rivier wat lyk soos die Vaal in vloed! As jy by die voordeur inkom en ‘n halwe stel trappe opklim is jy by ons deur – daar is 5 eenhede. Voor is daar so 5x20m tuin, maar ek weet nie of ons daar mag loop nie. Ons waskamer is 2 vloere af in die kelder: ‘n groot koue kamer met ‘n wasbak en die masjiene, ‘n ou tafel en 2 stoele – ek het die emmer en wasgoedmandjies erken maar die lappe lyk maar vreemd. 1 klein bolugvenster met verskeie spinnekoppe in die hoek. Dis nogal vreemd bevrydend om nie jou eie goed te he nie, soos ‘n langvakansie in ‘n gemeubileerde woonstel.

Die kinders speel te lekker in die straat op hulle fietse – ons bly so 2 strate bo die hoofpad, so hulle kan ongedeerd rondjaag en hulself geniet. Soos enige kind is hulle ook sonder inhibisies of knaldempers – so jy hoor hulle tot dit donker word. O ja, en hulle ry met wat lyk soos silwer 9mm hier rond, so hulle’s maar net so geweldadig soos ons gebroedsels!

Ek moet erken dat die lig my geweldig verbaas. Dis so 7 uur lig en word eers so 6 uur donker. Dis nou 4 uur en ek sit heerlik in die sonnetjie in die sitkamer en skryf, Hann-Roux slaap op die bank – moeg gestap en gespeel (ons het by die tannie van die Gemeinde – munisipaliteit – toestemming gekry om Woensdagmiddae op dis skool se speelterrein te speel , dis al wanneer daar nie skool is nie!). As julle gewonder het hoe dit voel om in 5° te loop om eiers en komkommer te gaan koop – dis @#$%^&* koud! Maar binne is dit verbasend warm, slaap nog steeds in kort pajamas en trek rustig aan asof dit nie buite te koud is om te leef nie! Ons het vandag ons koopkaart vir Coop (lees PnP) gaan wegstuur van die poskantoor en onsself by die Gemeinde gaan aanmeld sodat ons gekaart kan word. Ek het ook vanmore my eerste hemde in jare gestryk – dis nogal vreemd, dit voel of ek die hele tyd wasgoed was, maar daar was nogal ‘n agterstand, so ek hoop ek het nou ingehaal. Het besluit om eerder elke dat iets te doen as om 1 hele dag daaraan te wei – ek sal mure breek! Ons oggendroetine werk so – ons staan 5 uur op, ek maak koffie en ontbyt dan sit ons en gesels, anders kry niemand ‘n woord in nie, Johann kom laat in die aande hier aan, en HR eis sy pond fillet! Dan bad hy so 7 uur sodat hy teen 8 uur by die werk kan wees. HR staan op as sy pa loop en dan eet hy en besluit ons wat ons gaan doen. het vanmore voor ons aangetrek het besluit om iets aan die vloere/matte te doen. Haal die stofsuier uit die kas, skakel aan, en die verdekselse ding spoeg ‘n hoop dons op die mat uit. Gaan haal toe maar ‘n skerp mes en dop hom om – die voorste borsel sit so vas van die hare dat ek die hele ding moes oopmaak en skoonmaak – het my doodgegril – sulke lang bruin hare (darem nie gekrul nie!) maar toe het die masjientjie darem gewerk. In die kas is daar ook ‘n besemstok met ‘n blou plastiese voet, het per toeval sy lapoortreksel in die waskamer opgespoor...die voorreg om in ‘n plek te bly waar ander mense al gebly het en hul goed net so gelos het is soms betwyfelbaar (ek kan die gril nie beskryf nie – die blou bank het kosstrepe wat ek nog nie kan eien nie...)

Nuwe dinge geleer:
Hoe weeg jy jou eie groente in ‘n Coop – Hann-Roux is in vervoering en wil elke blikkie en selfs sy sapbottel weeg en inpak – ek sweer vir elke 3 items wat ek koop vergeet ek 5 omdat ek hom moet keer en amuseer!
Skottelgoedmasjiene, wasmasjiene en tuimeldroeërs – dis nou interessant – die goed praat net duits en frans, met die gevolg is date k nog besig is om hulle uit te pluis. Die skottelgoedmasjien het toe net ‘n stuk rubber vasgeknyp – hulle weet ook nie hoe dit gebeur het nie.
Die kombuis en waskamerwasbak se proppe is vreeslik vreemd! Dit lys soos ‘n stuk wit PVC pyp met ‘n kinkel in wat jy in die gat druk (ek het die prop gesoek omdat ek self moes skottelgoed was, en dit toe in die waskamer gesien...)

Ons het vanmore gepraat – ek sal seker binnekort ‘n polo koop, dis net nie die moeite werd om hier met ‘n groot kar te ry nie – die parkeerplekke is piepklein, ek wil nie die Audi bestuur nie! Miskien kan ek ‘n 2e handse Beetle erens kry – dit sal nou ‘n droom wees – ek het hulle nog altyd heimlik bewonder...ons is besig om kaste en ligte vir die huis in Mellingen te soek – Ikea se katalogus is ongelooflik!!!

Baie dankie vir al die reaksie! Ek het nog steeds nie my eie posbus nie so ek stuur in die bondel – sal meer direk antwoord as ek dit self kan skryf. Net kortliks –
Steph – ons het die hoed, vlag en kombers saamgebring – ONS BLOED IS STEEDS BLOU!!! Kovsies is ERG – elke 15 min op CNN – ek skaam my dood – hoop maar hulle was dronk! Wat werk betref – ek weet nie wat hom besiel nie maar sal my mond hou – het seker ‘n nuwe speelding nodig! Niks kom ooit klaar nie – als hang net in die lug...soek nog die handeroom – weet nie watter soort om te koop nie!
Geluk Engela – moet net nie te veel koop nie…dankie vir die rekenaar – dit werk soos ‘n bom: ons kyk Nils Holgerson en luister Delarey (ek wonder wat die bure dink…)
Cata – dis regtig groot en gemaklik, jy kan ‘n enkelbed kry en ek sal jou wasgoed was – moenie te veel klere inpak nie – jy gaan BAIE goed wil saamvat!!! Sal jou nog bel oor my skoene – ek dink al meer ek moet dit maar laat koop… o ja – ek skuld Rene ‘n engelse bybel as jy vir my by CUM kan gaan kyk sal ek dit waardeer – ek sal die geld vir jou aanstuur – new international version met sulke pienk leer soos jy ons paspoortboekies van gekoop het – hoop nie ek maak jou bankrot nie, laat my weet dan betaal ek oor...
Pa – ek sal later in detail antwoord…ek het ‘n kaart gekry, sal dit probeer pos of saam met Cata terugstuur...
Christa – miskien moet jy maar weer in Parys ‘n draai gaan maak…(dis nou Vrystaat…) en hou verdomp op tjank! Nou’t jy ‘n aanlyn schrienk – tel jou seëninge…
Eben – baie geluk en geniet die see – ek’s jaloers!

Pppps. Sonder Hann-Roux sou ek verseker in ‘n misrabele hopie in die bed gelê. Die wete dat ek dit vir hom moet draaglik/moontlik maak laat my elke trap klim en elke steilte uitstap. My voete en bene is so seer ek kan dit nie verduidelik nie. Elke keer as iemand met my duits praat skrik ek my dood en ek verstaan net elke ander ou – die switsers se duits is maar moeilik. Die resepte en die treinkaartjiemasjiene en elke dekselse ding praat als behalwe engels! Maar die bome begin goudgeel bot en ek is uiteindelik in Europa in die somer. Hann-Roux is maandagoggend vir 2,5 ure by ‘n speelgroepie, ek het more my eerste duitse les en dinsdag is weer bybelstudie. Ons week het darem al ‘n ritme, nou moet ek nog net vir elke dag ‘n beter ritme kry...

Bis bald – hoffentlich....SAN

No comments: