January 04, 2005
Kersfees 2004
Ons het kerstyd in die Drakensberge deurgesweet - mens dis darem warm in die somer...maar voordat ek weer begin kla oor die winter:
As gevolg van die hitte was ons strategie om die warmste deel van die dag in lugversorging deur te bring - maw in die kar. Ons het amper 3000km afgele tussen Bergville, Winterton, Colenso, Dundee, Weenen, Nottingham Road, Umhlanga Rocks, Clarens en nog ander wat ek nie die name van kan onthou nie.
Ons grootste teleurstelling was beslis die KZN nasionale park waar hulle jou R25 pp vra om 10km deur 'n piekniekterrein te ry - dit was nou 'n wrede cul de sac, HR het wel die geleentheid gehad om met kees en sy neefs kennis te maak: hy was nie vreeslik opgetrek nie en hulle het te warm gekry om te reageer! Weenen en Colenso is amper spookdorpe - lyk vreeslik treurig!
Diere gesien: sekretarisvoel, hordes ooievaars, taretaalfamilie - vreeslik oulik hoe hulle oor die pad hardloop met 4 kuikens. Drakensville het 'n dieretuin? van eende met kleintjies, makoue, ganse, paddas, 'n donkie (wat die hele tyd sy maats roep, wat nooit antwoord nie), perde, bokke, volstruise en 'n eensame kalkoen (lelike bleddie ding...). Johann en ek het ons tyd spandeer om die diere van ons gedierte te red, want hy wil die hele tyd ondersoek instel...
Oral was vreeslik baie water - die Tugela storm werklik voort see toe. Greytown was die ontdekking van die rit - wat 'n wonderlike plek toegevou tussen die berge met die wolke wat daarop rus - beslis nog 'n besoek werd!
My 'hoogtevrees' is getoets toe ons in Umhlanga deur 'n natuurreservaat moes see toe - dit was seker net 500m maar die meeste daarvan het jy so 'n liniaallengte bo die moeraswater geloop op 'ou' planke met 'n kind op jou nek in 35C son met 'n humuditeit van 150%! Ek was papnat voordat ons by die  branders uitgekom het. HR het hom vreeslik vir die water wat hom omgeslaan het vererg en vurig vir die branders gepreek deur souterige, sanderige trane...
Die vakansie was 'n sukses, ek kan net nie se dat ek uitgerus is nie, maar dit was 'n voorreg om vir so 'n lang tyd (8 dae) die hele tyd net ons 3 saam te wees...
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
 
No comments:
Post a Comment