September 08, 2006
18 maande later...
Dis heerlike lente - die winter's verby...
Dis wonderlik hoe die weer jou algemene idee van die wereld kan verbeter! Die bome bot, dis vroeer lig, die gras word groen en dis warm genoeg om in die oggend uit 'n warm bed in die stort te klim sonder om op jou tande te kners! Soos gewoonlik is ons besig met beplanning - of dit nou HR se verjaarsdaggeskenk is of 'n verbetering aan die tuin, daar's nooit 'n einde aan die skedulering en reeling nie. Ek het verlede week vir die eerste keer werklik besef dat die meeste mense nie soos ons dinge uitdink en beplan nie - ek sou dit nie andersins kon doen nie en moet dankbaar wees dat Johann daarvoor kans sien om saam te praat en redeneer.
Dis Vrydagmiddag - ek het nog hope werk maar saam met die lente kom ook heerlike hooikoors en my kop is so seer dat ek nie meer kan dink nie - nou praat my vingers maar. HR het my gisteraand omgepraat om by hom te kom inkruip tot hy gaan slaap - hy't ewe vir my 'n plekkie gemaak en kussing aangegee. Ek het vir hom 'jakkals nooi vir gansie' en 'wippie en snippie' uit die verseboek gelees en toe het ons geslaap. Die moeilikste is om jou dan weer los te skeur en in jou eie kooi te gaan kruip! HR het weer begin swem, Di en Do oggende kom die swemskool hulle oplaai - hy geniet dit vreeslik en is behoorlik moeg daardie aand...
Sondagaand het hy so teen 11 uur ons met 'n luidkeelse geskreeu wakker gemaak - hy't tussen die bed en die bedkassie ingeval - sy ken is navy blou met 'n rooi are padkaart daardeur. Wat hy nie nog aan homself gaan doen nie...
Ons was darem die afgelope 18 maande by die see, het na 'n nuwe huis getrek (om die HNP te bou) en ek het my studies voltooi. Ek kan nie glo dat dit klaar is nie, maar Johann het die sertifikate en fotos teen die muur gehang so ek kan dit nie eintlik ignoreer nie.
Vreemd dat die tema hierdie jaar in ons huis en soms by die werk ook egskeiding is - ek was op een of ander manier hierdie jaar by 4 skeisake betrokke - 1 jonger, 1 ouer en 2 net so oud soos ek. Die wereld word soms vir my vreemd en ek besef dat ek meer konserwatief is as wat ek sou wou erken - dit van 'n dogter uit 'n geskeide huis...dis net damn sad...
Ek mis alweer Aardklop - dis net so hartseer - ek moet eintlik my verlof vir volgende jaar nou reeds skeduleer - daar beplan ek alweer - dis 'n gemors!
Ek gaan probeer om nog fotos op te laai - my kop is nou te seer om nog slim segoed uit te dink...
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment